Bom bars oor gesteelde plofstowwe
Kuruman - Die Kimberleyse Georganiseerde Misdaad Eenheid ondersoek 'n saak van die Besit van Plofstowwe nadat 'n 35-jarige man verlede week in Bankara in die Bodulong nedersetting in hegtenis geneem is.
Volgens Noord-Kaap polisiewoordvoerder, Lt Kol Mashay Gamaldien, word daar geglo dat die verdagte, Freddie Katong, wat 'n myner by die Black Rock Myn is, die plofstowwe in 'n gereedskapkassie agter 'n buite-toilet versteek het. Volgens Gamaldien het die polisie beslag gelê op 'n aansienlike hoeveelheid Explo Gel V-10 plofstof sowel as 17.8m se ontstekingslont wat as kommersiële plofstowwe by myne gebruik word. "Met dié hoeveelheid plofstof kan mens nogal 'n behoorlike gat in die aarde in skiet", het 'n kenner van dié plofstowwe aan Stellalander vertel. Daar word ook geglo dat dieselfde tipe plofstowwe gebruik word om OTM-masjiene op te blaas.
Lede van die Kuruman Honde-eenheid, die Plaaslike Kriminele Rekord Sentrum en die Kimberleyse Plofstowwe-eenheid was ook saam met die Georganiseerde Misdaad Eenheid betrokke in die ondersoek en ook die inhegtenisname van Katong.
Die verdagte het Vrydag (9 April) voor die plaaslike landros verskyn waar sy formele borgaansoek uitgestel is tot Vrydag (16 April). Tot sy volgende verskyning sal die verdagte in polisie-aanhouding bly.
Lt Kol Kallie Van Wyk, bevelvoerder van die Plofstowwe-eenheid in Kimberley het die plofstowwe Vrydag (9 April) op die perseel van Stone Crushers in Kimberley vernietig deur dit te ontplof.
deur Cornél Grobler
|